SA Meanders is
'n nuwe toerisme webwerf wat al die aspekte van Suid Afrikaanse
toerisme insluit. Ons stel jou voor aan die Wes, Oos en Noord
Kaap Provinsie, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo,
Noord-Wes en Mpumalanga Provinsies in hul geheel en onthul
hul aantreklikhede.
Hierdie webwerf is geskep om die reisiger
te verlei om meer van Suid Afrika te ontdek, van die groot
stede en dorpe tot die interessante klein dorpies en gemeenskappe.
Luier langs minder bekende paaie en ontdek die gul gasvryheid
van die mense, asemrowende skoonheid van die omgewing en groot
verskeidenheid buitelug avonture.
Meanders sal help om jou reisplan te beplan
en om geskikte akkommodasie te vind. Dit sal jou op 'n historiese
en kulturele toer van die land neem en jou bekend stel aan
die verskeidenheid aktiwiteite wat Suid Afrika jou bied.
SA Meanders. kom saam met ons.
Foto's wat op hierdie webblad verskyn word geplaas met die vriendelike toestemming en kopiereg van die Suid Afrikaanse Toerismeraad.
Kies asseblief
'n Provinsie van die kaart of die inhoud hieronder Alternatiewelik, gebruik die soek
fasiliteit hierbo.
Die Oos-Kaap is welbekend vir sy mengelmoes van kulture, historiese verlede en die ongerepte natuurskoon van al sewe streke. Die Alfred Nzo, Amatola, Cacadu, Chris Hani, Nelson Mandela Metropool, Oliver Tambo en Ukhahlamba Streke bied ‘n betowerende diversiteit waar opregte gasvryheid alledaags is.
Die Vrystaat word heeltemal omring deur ander provinsies en lê in die hartjie van Suid-Afrika. Die natuurlike grense van die Vrystaat word gevorm deur die Oranjerivier in die suide en die Vaalrivier in die noorde. Hierdie provinsie is uitgestrek en spog met pragtige natuurskoon. Die landelike gebiede is baie geskik vir landbou en van die wêreld se produktiefste goud- en diamantmyne word hier gevind. Die Vrystaat is in 5 streke opverdeel, nl. Motheo, Xhariep, Lejweleputswa, Fezile Dabi (Noord Vrystaat) en Thabo Mofutsanyana.
Die Wes-Kaap Provinsie word in 7 streke verdeel. Dit strek vanaf die sanderige, semi-dorre Weskus-streek, om die Kaapse Skiereiland, en dan ooswaarts langs die Suid-Kaapse kusstreek tot by ‘Moeder Natuur se skouspelagtige tuin’, die Tuinroete. Binnelands vind ons die welbekende Kaapse wynstreek, die ‘kosmandjie’ van die Swartland en die Overberg, die betowerende Breederivier-vallei en die eindelose vlaktes van die Karoo. Elke streek weerspieël sy eiesoortige eienskappe en verwelkom enigeen wat dié landstreke wil kom verken.
Gauteng is die kleinste provinsie in Suid-Afrika, desnieteenstaande word dié provinsie as die ekonomiese reus van Suid-Afrika beskou. Suid-Afrika se administratiewe hoofstad en finansiële sentrum is hier gesetel. Gauteng bestaan uit vyf streke: Johannesburg Metropool (Gauteng-Sentraal), Tshwane Metropool en Metsweding (Noord-Gauteng), Ekurhuleni (Oos-Gauteng), Sedibeng (Suid-Gauteng) en die Wesrand ( Wes-Gauteng).
Die Zulu Koninkryk van KwaZulu-Natal is voorwaar ‘n Koninkryk om te beleef. Dit lê langs die Indiese Oseaan en is die tuiste van Suid-Afrika se grootste hawe, die manjifieke Drakensberge en die beroemde oorde al langs die Suid- en Noordkus. Hier vind ons baie toeristeroetes en die provinsie word in 8 streke verdeel: eThekwini-Durban, Suidkus, Noordkus, Ukhahlamba-Drakensberg, Pietermaritzburg-Middellande, Zululand, Olifantkus en die Slagvelde. Die Koninkryk van die Zulu groet jou.
Die Limpopo Provinsie, wat ook as die Groot Noorde bestempel word, kry sy naam van die Limpoporivier, wat ook die noordelike grens vorm. Hierdie veelsydige streek is bekend vir sy baie wildsparke, wildbewaring en ‘n verskeidenheid van kulture wat binne sy grense voorkom. Die Limpopo Provinsie grens aan buurstate Zimbabwe, Mosambiek en Botswana en omring die noordelike dele van die wereldbekende Krugerwildtuin. Die Provinsie is in 6 streke verdeel, nl. Waterberg, Capricorn, Vhembe, Mopani, Sekhukhune en Bohlabela.
Mpumalanga, ‘die plek waar die son opkom’, is dié provinsie waar van Suid-Afrika se mees skouspelagtigste en dramatiese natuurskoon gevind word. Hierdie provinsie, met sy kulturele, historiese en geologiese diversiteit, sal jou, as reisiger, ‘n onvergeetlike en fassinerende ervaring waarborg. Die Mpumalanga Provinsie grens aan die Nasionale Krugerwildtuin, asook die provinsies van Limpopo, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu Natal en die buurstate van Mosambiek en Swaziland. Dié provinsie bestaan uit die volgende sewe streke: - die Kosmos Landstreek, Gras en Vleilande, Kulturele Hartland, die Hoogland, die Panoramastreek, die Grensstreek en die Laeveld/Legogote.
In die Noord Kaap van Suid-Afrika sal jy fantastiese teenstellings aantref. Die natuur het op wonderbaarlike wyse opgemaak vir die feit dat hierdie area dor en droog is, met skitter-mooi natuurskoon en ‘n weelde van minerale wat eie is aan die Kalahari, die Groen Kalahari, die Diamantvelde, die Karoo en die Namakwastreek.
Die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika grens aan die Vrystaat, Limpopo en Gauteng Provinsies, asook die buurstaat Botswana. Hierdie provinsie sluit ook die voormalige tuisland van Bophuthatswana in. Dit word in vier landstreke verdeel:- Sentraal, Bophirima, Suid en Bojanala Streke.